Dankie, Riana:

20171013_171930

Hier sit sy nou

op my meer dramatiese

Midnight garden-groen muur.

Die sagtheid van “Hint of White”.

was net te effentjies vir die

eksentrieke, blomkop wese.

Sy sal eerste,

so teen dagbreek

met haar glimlag

die skaam rietsanger groet,

saam met die vinke soet

kwinkeleer. Die son se appelkooskleur

agter die bome sien loer en ook

hoe die eerste bome bot.

Snags sal sy oopoog en wakker slaap,

vir die sterre sing;

bietjie met Oukat praat

en soggens met my eerste koffiemaak

rooirok-blombestrooide-witvlerk

inspirasie bring.

 

 

 

Advertisements

Om die pad te vat …

Elke jaar wanneer die eerste blare val en die Herfs sy goud strooi, dan pak die wanderlust my. ’n Onrustigheid roer in my hart. Ek tuur ure deur die vensters van my huis na die goud in die bome, die grou oggende, die vertrekkende swaels.

Ek soek ʼn plek om te stap. Lang, lang ente. Om stil te staan en te kyk na die glooiing van rant en rivier. Op ’n klip te sit en al die dinke te dink waarvoor daar in die gewone loop van tyd, nie tyd is nie. Ek word weemoedig, nes die natuur rondom my. Die grasvlaktes met die langstert flappe wat oor hulle fladder, die klam koue uit die vlei, die verlange na die hitte van ’n koolstoof, dis alles goed wat my voete laat jeuk vir die langpad.

In standerd vier, by Meneer G.P. Visser, in Behanie se Laerskool, leer ons die volgende gedig.

Wander -Thirst by Gerald Gould

“Into the East the sun rise, into the West the sea.

But East or West the wander thirst will not let me be.

It works in me like madness, dear, to bid me say goodbye,

For the rivers call and the road call and oh! the call of the sky”

“I know not where the white road runs, nor what the blue hills are;

But a man can have the sun for a friend, and for his guide a star;

And there’s no end to voyaging when once the voice is heard.

For the rivers call and the road call and oh! the call of a bird.”

“Yonder the long horizon lies and there, by night and day,

The old ships draw to home again, the young ships sail away.

And come I may, but go I must, and if man ask you why,

You may put het blame om the stars, the sea, the white road and the sky.”

My hart loop lankal. Maar volgende week sit ek die stukke in agter my hart aan. Soos in Abraham de Vries se Boesmangedigte:

“Ek lê opgerol soos ’n ystervark

en hoor my hart oor die rante stap.

“Wie kan nog bly lê as sy hart nie wil slaap?

O,ho my hart, ek gaan saam met jou stap.”

Maandagoggend

Ek sit soos kleintyd op die stoeptrap

hande gevou om die warm koffiebeker.

Ek wag op die son,

bid oopoog en geluidloos:

Dankie Heer,

vir die aarde se oudste geur –

Die van water en grond,

die klam molm onder die laventelbos,

oggendwind en vinke in die riete van die vlei.

Toe breek die son uit donker bome los.

 

Dans met die blou rok.

 

Anna wou daardie jaar n blou rok hê.

Pa en Ma is stram. Geld is min en die vierde baba is op pad. Eintlik het die kind genoeg klere. Maar Ouma, wat die hart van ’n dogtertjie verstaan, gee toe. Dis dié dat ek en Ouma nou in die winkel staan en kyk na die materiaal in rolle en rolle blou wat op die toonbank oopgesprei word.

Ouma frommel haar neus onder haar bril se bruggie en vat met ’n kennershand aan die lapgoed. Daar is blou wat so lig is dat dit wit lyk in son. Daar is ligblou en babablou en poublou. Maar daar is nie nie blouselblou nie. Ek sien voor my Ma se badkom met blouselwater op ’n Maandag. Die lakens dryf soos wit wolke in die blou, blou water. Blouselblou is blouer as blou.

“Lieflike goed, die,” sê Ouma. “Maar die kleur is nie reg nie. Die kind wil ’n blouselblou rok hê.”

“Genade Tant Anna, watter kind wil so ’n rok dra? Dis mos gans te ’n ou kleur vir ’n dogtertjie.”

Aan die kleurtjie op Ouma se wange kan ek sommer sien sy vererg haar bietjie. Sy hou juis nie van die winkeltannie met haar hooggekamde hare en rooi lippe nie.

“Die kind,” sê Ouma, haar tyd jare vooruit, “dra my naam en sy het ’n sterk persoonlikheid. Sy sal die blouste blou kan dra. En mooi lyk.”

“Anna,” sê die winkeltannie gevat. “Alkant, selfkant.”

Ouma snork. Haar wange word rooier.

Tot die winkeltannie kan sien dat Ouma vies word. Sy frons en buk onder die toonbank in. Die stuk materiaal wat sy daar uithaal, is so blou dat dit mens se asem wegslaan. Die blouste blou. Dis amper blouer as blouselblou. Dis Anna se blou.

“Hoeveel is dit?” vra Ouma tevrede.

Die winkeltannie meet die materiaal teen die maatstok op die toonbank.

“Dis ’n jaarts-en-‘n-half, Tant Anna. Maar kyk, dis lekker breed.”

“Bietjie min, maar dit moet maar doen. Sal die facings sommer van bloubont knip. Nou nog knopies. Van die soort wat mens oortrek. Die kleinstes wat jy het.”

Ouma betaal en sit die bruinpapier pakkie  onder haar arm. Sy gee my ’n sent en ek koop vir my twee swart Wilsontoffies. Soos ons huis toe stap, dink ek die hele tyd aan alkant-selfkant. Dit klink nie vir my mooi nie. Dit maak my bietjie hartseer dat my sussie nie “reg” is nie.

Twee dae later is die blou rok klaar. Dis die mooiste, mooiste rok. Ouma hang dit in Pa en Ma se dorpskamer teen die kas op. Met Nagmaal, oor twee weke, kan Anna haar rok vir Groot Kerk aantrek.

Ek lewe in afgunstige afwagting.

Eindelik staan my sussie uitgedos in die blouselblou rok. Die rok het ’n middellyfie en die romp is net effens daaraan geplooi met fyn rygplooitjies. Daar is, as mens vinnig kyk, amper honderd klein, blou knopies wat oopknoop op die bolyf. Langmoue met smal mouboordjies knoop om die pols vas. ’n Ronde kragie in donker roospienk rond die rok af. Anna lyk soos ’n koningskind in haar blou rok en haar blink, donker hare.

Daardie aand op die plaas val daar een van daardie laat-April buie en toe die reën ophou breek die maan deur die wolke. Ek maak Anna wakker om vir haar te wys. Daar is druppels aan die takke en grashalms op die werf. Die lug is koel. Die maanlig is betowerend.

“Ek,” se Anna, skielik helder wakker, “gaan nou my blou rok aantrek en in die maanlig dans. Dis ’n maanlig-dansrok.”

“Anna?”

Maar sy is klaar deur die venster. Ek sit op die vensterbank en kyk hoe my sussie tussen die grashalms in die maanlig dans. In haar blouselblou nagmaalrok. Sy lyk soos ’n andersoortige feetjie.

My hart word warm. My sussie is Anna en sy het baie kante.  G’n alkant, selfkant aan háár nie. Ek wonder oor haar ander kante. Ek word sommer bly dat ons nog klein is en ek al Anna se kante kan ontdek.

Toe klouter ek ook deur die venster en dans met haar deur die klam gras onder die blink sterre wat tussen die uitgereënde wolke deurloer.

Totsiens Pa.

 

Pa

hier staan jou skoene

die koedoeleer sag soos doek

nog voor die agterdeur

my hart ruk inmekaar

van seer

Pa

jy stap vanaand kaalvoet

met jou knokkeltone

op die vaal voetpad

tussen sterre

oog op die Suiderkruis

Pa

jy stap sonder haas

sonder water en haakkierie

ligvoet stap jy

want jy gaan huis toe

dáár sal altyd mooi veld wees

Pa

ek sit hier op jou stoel

voor jou dorpshuis se agterdeur

dalk brand die sterre

jou kaal voetsole

dalk is hulle witryp koud

Maar Pa

ek hou jou skoene op my skoot

my hart

bly droogte-seer

Skuifspeldliefde

 

Ek skuifspeld jou hart se fyn papier

aan myne vas.

Geen kopspeld stekies wat kan sweer

~tot agterdog of  seer.

Geen duimspyker gate of gom

wat ons mooi liefde vuil kan smeer.

As dit tyd word om jou eie pad te loop,

dan skuif ons pynloos uitmekaar uit los,

sonder wroeging, sonder swaar.

So bly ons drome heel en volgens plan.

Ons is nie aan mekaar vasgekram.

As die wind so waai …

Toe ons klein was het my ma vir ons liedjies gesing.

Soms het sy halleluja’s gesing of gesange. Maar meestal het sy vir ons ou volksliedjies gesing.

“As die wind so waai,

soos hy nou daar waai,

dan waai hy my jas

in die taaibos vas …”

Op ‘n plaas, afgesonder tussen die rante, bly kind en grootmens ewe na aan die natuur. Ons dae is bepaal deur die gang van die son, die wind, die reën.

Die westewind was ons vyand. Hy het ons reën weggewaai, al het die wolkie “so groot soos ‘n man se hand” al vroeg oggend op die horison verskyn. Ons vroumense het geweet, as die westewind waai, bly die huis vol fyn sand wat uit die rivier oor die kalkwerf aan gewaai kom en walletjies sand op die stoep maak.

So waai die westewind dag vir dag een vakansie. Ma stuur my om die wasgoed te hang. Te vergeefs. Die wind bol die lakens soos skeepseile en ruk hulle van die draad af. Lekker dikbek loop ek huis toe. Alles sal weer gespoel moet word. Met die hand.

Ek buk onder die peperboom wat langs die agterstoep sy takke sprei, in. ‘n Lang slap peperboomtak piets my deur die gesig.

“Eina! Ek wens hierrie blerrie wind wil ophou waai!” skree ek verwoed.

Ma, seker ook maar keelvol en moeg van die wind en sand en hope vuil wasgoed, pluk daardie einste slap lat af en laat waai. Sy piets my oor die bene: “Jy … vloek … nie … die elemente … nie!”

Skaamte, erger as die brandstrepies van die peperboomlat oor my kuite, oorval my. Hoe kon ek teen die wind praat. Alles, ook droogte en reën en die westewind, kom uit die hand van God. Ek durf nie murmereer nie.

Toe lag Ma. Ons maak tee en drink dit uit die wind by die kombuistafel.

Ek het nog nooit weer my stem verhef teen die natuur se elemente nie.

Vandag waai hier ‘n droogtewind oor die vlakte. Yl wolke bevestig die reën is nog ver. Gister het die wind gewaai. Vandag waai die wind. Môre sal die wind weer waai. Stormsterk. Huilend om die hoeke van die huis en deur die gleufies van die vensters. Ek sal moedeloos voel. Humeurig. Sand en stof uit my hare skud en kort-kort my werkstafel afvee. Ek sal die stoflap onder die kraan spoel. Ek sal tee drink langs die kombuistafel. Maar ek sal die wind verdra.

Ek weet die reën sal kom. Dalk nie wanneer ek dit wil hê nie, maar wanneer dit goed en reg is.

Stilte

Stilte

Ek ken die suisende stilte van die groot woestyn.

Vir ure kan ek sit en staar na die onherbergsaamheid

van sand en klip, van duin, op duin, op duin.

Ek weet hoe voel die bitter stilte van ‘n leë huis

al hoor jy nog die kinderstemme wat

deur die stilte ruis.

Die donker stilte van die ná-nag

waar jy die vlerkslag van die grootoor-uil kan hoor

en die sagte, stil oopbreek van die nag,

is stiltes wat bekoor.

Maar eers toe ek geheel kon stil raak,

myself verloor in stilwees,

kon ek God se inspraak,

vol waarheid en vol lig,

in die donker van my menswees hoor

Om voete te was.

Iemand daag my mos uit om die voetewas-ding te doen. Sonder spot of vernyn. Soos Jesus gedoen het. Ek weet dit is mode deesdae in kerke en denominasies om dit te doen. Maar siende dat ek nie meer aan ‘n kerk of gemeente behoort nie, moes ek buite die kerkgemeenskap gaan soek na iemand wat sou toelaat dat ek sy voete was.

Laat ek dit duidelik stel: Ek is nie ‘n ongelowige nie. Net iemand wat ontnugter is oor die kerk en sy dinge en dogmas. Kerkloos, nie godloos nie. Ek is ‘n bevryde Calvinis. Ek erken die gloeiende elemente en goeie elemente in enige geloof. Ek het respek vir iemand wat anders as ek dink. Ek is ook, wel, bietjie van ‘n aweregese snob.

Sooo, eerste keer ek vir Lief voor: “Dis tog Vadersdag, laat ek jou voete was.” My motiewe nie heeltemal suiwer nie. Ek droom van sagte handdoeke, die lekkerruik rome en olies, die sensuele masseer van die voete.

“Ag nee, regtig. Is jy bietjie gek?”

Ok, dan maar daaroor bid.

“Asseblief, Here. Iemand wie se voete ek kan was. Ek kan tog nie my een, enigste vriendin se voete was nie. Of een van my kinders nie. Hulle sal dink ek is sertifiseerbaar. Stuur iemand wat sal aanvaar dat ek sy voete gaan was.”

So storm ek een oggend by die plaaslike video-winkel uit. Nuwe kykgenot onder die arm. By my bakkie staan die ronde vroutjie.

Sy is onbepaalbaar oud. Vuil. Mosbolletjie rond. Blouerig van kleur. Verwaarloos.

“Haai mevrou, my ou bene is so moeg. Kan jy my nie huistoe vat nie?”

Goeie hemel, help.

En toe, soos donderslag: Jy het mos hiervoor gebid.

“Kom,” sê ek in my Vroue-sendingbond-stem: ” … ek neem jou na my huis. Dan gee ek jou tee en koek en was jou voete.”

“My ou twee pote ís so gedaan. En koek sien ek nie meer nie. En ek is dors,” grom sy en stoot haar onderlip uit.

Ek kan net dink wat sy ingedagte het om haar dors te les. Maar die gaan sy nie by my kry vandag nie. Nee, Earl Grey uit my beste mooiste blommetjies koppies. My fyn teelepels. O, ek gaan vir haar goed wees. Lief wees. My binneste begin jubel.

Ek  die halwe blok tot by my huis. My neus is op ‘n plooi getrek teen die stank. Sy ruik na drank. Na ou sweet. Na piepie in sy oortreffende trap.

“Here,” kla ek soos die kinder Israel’s van ouds, “Ek het gebid vir ‘n voetewas. Nie vir ‘n makeover nie.”

My gedagtes hol herwaarts en derwaarts, skape sonder wagter: Wat as Lief op die petalje afkom? Wat as my kinders … ?Wat as my enigste vriendin sien wat ek nou aanvang?

Ek staan sterk. Ek maak Ronde Vroutjie sit op die rooi rusbank in my sitkamer. Halfpad teen die trap op sien ek hoe steek sy ‘n handvol sjokolades in haar sak. Lekkergoed wat altyd op die koffietafeltje staan. Dis, Okei, dis net lekker.

Solank die badwater tap en Selina, my huishulp, die teegoed regkry, bel ek my skoondogter.

“Klere. Skoon klere wat vir daardie vroutjie wat altyd by die taxi-rank sit en drink. Iets dienliks. Sweetpak of so.”

“Ek kyk, Ma. Waarmee is Ma nou weer besig?

Ek antwoord nie. Ek druk die foon dood, trek my skouers vierkantig en pak die bul by die horings.

“Kom nooi ek. Kom ons bad jou gou. Ek het vir jou skoon klere en als.”

“Dink jy ek’s vuil, Miesies? Stel jy jou bokant my aan? Julle ryk mense dink mos julle is beter as anner!”

Aangekla, verhoor, veroordeel. My jubeling word al minder.

“Nee, nee. Ek wil net jy hê jy moet lekker voel en jy moet happy hier weggaan. Kom kyk, badskuim en lekker lyfroom en sjampoo. Makeover. Ons gee jou ‘n makeover.”

Sy skuifel agter my aan. Ek kry koue voete en wink Selina nader. Sy moet kom help. Dis nie ‘n job vir sissies hierdie nie. Dis rugbreek werk.

“Bliksemse groot bad. Sal ekkie versuip’ie?”

“Ons gaan jou help. Jy sal nie.”

Ek en Selina stroop die vodde. Ek steek my naarheid weg, maar dit bly sit in my keel. Vuilgoed kors om haar enkels, om haar nek, onder haar oksels. Haar voete is haglike pote. Net haar ronde maag is maagdelik wit. Blou are en rekmerke loop in vreemde patrone daaroor.

Versigtig laat ons haar in die bad klim. Sy sug behaaglik en sak weg in die weelderige water. Sy maak haar oë toe.

Ek kan nie help om trane in my oë te kry toe ek na haar in die bad kyk nie. Ek knik vir Selina. Ons kry die sponse en begin haar was.

Sy gil, sy skreeu soos ‘n maer vark en sy spat die badkamer van hoek tot kant vol water soos sy skop.

“Wat des helmoers maak julle?” gil my skoondogter bokant die rumoer uit. Sy is ‘n stewige stuk mens en sy is vir g’n niks op aarde bang nie. Sy spring in.

Rondevroutjie staan nie ‘n kans nie. Ons was haar hare, kry haar ore skoon en knip haar naels.

Sy klim uit.  Sy lyk anders. Papnat. Koud. Maar anders.

Lyfroom, olie vir die gesig en hande. Haardroër vir die hare. Lieflike sagte spierwit hare. Sy is mooi.

Skoondogter se sweetpak is ‘n sagte seegroen. Ons trek dit vir haar aan. Tik parfuum aan haar hals.

Toe drink ons vier tee om die eetkamertafel. Sy vertel haar storie. Hartseer. Ellende. Verdowing en verslawing.

Ek neem haar terug na haar huis aan die buitewyke van die dorp. Twee hondjies van onsekere herkoms storm op haar af.

Ek ry terug. Sonder om heilig te voel. Sonder om nederig te voel. Sonder om beter te voel.

Ek is net sielsmoeg.

Dag vier van “Aanhaling-uitdaging”

Amper mis ek die vierde en laaste dag van die aanhaling-uitdaging:

Eerste:

Linda Roos – Lied van die somerboom.

wat se pronkbok bot my netvlies vol sommerso

in die straat: haar polse kingel groen

geluidjies teen die wolke en haar heupe wieg

in die win: in haar armholtes woon

wonderlike gevlerkte wesens

en guitig giggel sy – die lug

bars borrelgroen vol blare

o haar oog is skugtig gesluier maar netnou

toe wind vingergroen in haar vol lyf roer

het ek in ‘n ppgwink gewaar: oonbeskaamd

in dié blink pupil spieël die somer haar.

Uit die bundel Kaar van Marlene van Niekerk

Vir waterplas en sterre

by ‘n kinkel in die voetpad

waar ek versigtig tree …

… staan ek plotseling verras

deur twee sterre

sprankelend in ‘n waterplas …

(Lees, o lees asseblief die hele gedig. Dis so mooi.)

Ons is met vakansie en het vandag eers hier aangekom. Daarom so laat. Lekker naweek aan die Uitdagers.