Die agste Maart: Internasionale Sprokiesdag

Regtig? Van alle moontlike dae – ’n Internasionale dag vir sprokies. En tog, waarom nie. Sprokies beteken dat mens vir ’n oomblik kan wegglip uit die harde werklikheid en jou in ’n fantasiewêreld verloor waar daar nog sekere beginsels geld en dit ten alle koste verdedig word. Sprokies vertel van groei, van die aflê van kindwees en onskuld sodat jy wysheid kan bekom en drake op jou pad kan verslaan. Sprokies is die ondergrond van ons daaglikse bestaan. Sprokies verdedig die goeie, oorwin die kwaad en wys die nadeel van jaloesie, bitterheid en wraak uit.

As jy jou eie sprokie moes skryf, hoe sou dit lyk en klink en in watter kleure sou jy dit verf?

20180308_101559_HDR

Die sprokie wat ek wil vertel kom uit die vorige eeu. Dus begin dit, soos alle goeie sprokies met: “Lank, lank gelede was daar ‘n prinses.

“Sy was nie die mooiste prinses nie en sy was klein en kort. Tingerig, het die oumense gesê. Sy was vrolik en nuuskierig, behulpsaam en haar hart was sag en oop vir die ellende van ander mense. Sy het oumense verpleeg en versorg, ’n moederlose dogtertjie grootgemaak en opgevoed en toe sy dertig was, daag haar ridder op.

“Hy kom nie op ’n wit perd nie, hy kom met die trein in die vorm van ’n een bladsy brief op blou papier in blou ink geskryf met ’n nib-pen (die soort wat nog in die inkpot gedoop moet word). Sy handskrif is sterk, maar ongevorm, soos die van iemand wat nie gewoond is aan skryf nie. Sy woorde is eenvoudig:

            “Ek het by my ma, Anna Smit van jou gehoor. Ek weet jy ken haar familie en die van my pa ook. Jy weet dat hulle goeie mense is en dat hulle harde werkers is.

        Ek bly alleen op ’n plaas en is soms eensaam Ek is dertig jaar oud en ek wil graag met jou korrespondeer met die oog op ’n moontlike huwelik tussen ons.

        Indien dit jou en jou ouers se goedkeuring wegdra, sal ek graag van jou per kerende pos hoor.

        Groete

        FG Venter.

          “Prinses Christina lees die brief. Sy weet sy sal in haar eie land, nooit regtig deel hê aan ’n koninkryk nie. Toe bespreek sy die brief met haar ouers en met hulle goedkeuring korrespondeer sy met Koning Frans Venter, van die koninkryk op die rand van die Namibwoestyn.

“’n Brief neem ’n maand van die dorp in die mooi Boland tot by die eensame plaas waar die koning bou aan die welvaart van sy ryk. Drie maande na die eerste brief, vra hy die prinses om te trou. Sy stem in.

“Hy reis per trein om sy bruid vir die eerste keer in lewende lywe te sien, maar sy hart bly agter by die diere op sy grond, by die kampdrade wat blink in die sonlig en by die windpomp wat water diep onder die grond gaan haal en in die splinternuwe sinkdam gooi. Maar toe hy van die trein afklim, het hy sy flenniebroek en wit hemp aan en hy is so aantreklik soos enige koning kan wens om te wees.

“’n Seun van die mense by wie die prinses die dogter versorg, kom hom op die stasie haal. Volgens die gebruik van daardie tyd, mag die voornemende huweliksmaats nie alleen in mekaar se geselskap wees nie.

“By die huis van haar ouers, wag sy op die prins. Christina het haar hare in ’n kroontjie op haar kop gevleg en sy dra ’n groen wolrok wat haar oë beklemtoon. Daar is ’n blom in haar hand. As sy van die prins hou wanneer sy hom sien, sal sy die blom vir hom aansteek. Indien nie, sal sy die blom aan haar pa gee om vir haar aan te steek en haar pa sal die koning inlig dat sy hom nie wil hê nie.

“Toe hulle mekaar sien, weet hulle dat hulle pad moet saamloop. Lank voor die tyd van blomme of goeie maniere en etiket en reëls, is daar al bestem dat hulle een sal word.

“Hulle trou in die herfs van daardie jaar, na die milde reën Frans se plaas in ’n paradys omskep het. Die seremonie is eenvoudig en hulle reis per trein, terug na die plaas, drie dae en drie nagte. As huweliksgeskenk verander die koning sy plaas se naam na Regina (Koningin), ter ere van sy vrou.

“Die koningin leer ’n nuwe wêreld ken. Sy leer sy familie ken. Sy ma en susters is sterk vroue en sy voel haar tuis onder hulle sorg en aanvaarding. Sy broers behandel haar soos hulle hul eie vroue behandel – met respek, waardering en liefde.

“Ja, die draak is daar – droogtes, siektes, armoede en die grenslose verlange na haar eie mense en die eensaamheid. Daar is ook die tallose vreugdes: Frans dra vir haar veldblomme aan in die reënmaande. Soms skiet hy vir haar ’n paar vlakpatryse of bring veldheuning in ’n emalje skottel huis toe.

“Hulle kinders word gebore en Koningin Christina se lewe is vol en ryk. Sy leer alles wat sy kan. Leer haar kinders onafhanklikheid en selfstandigheid. Met die jare verlang sy al minder na die koel dorp in die Boland en groei sy vas aan die kameelbome, die sandduine, die klipkoppe en die kringe rante om haar wit kalkwerf.

“Sy plant vyebome en granate; leer om turksvye te skil en biltong te maak. Sy kook seep en sy vertel die oustories van haar nuwe land vir haar kinders voordat sy die komberse teen die aand se koue om hulle vasdruk.

“Sy en haar prins word oud, tevrede met hul lewe sterf hulle, diep in die tagtig, twee jaar uitmekaar.

“Nou waai die woestynwind oor hulle eensame grafte en die son kom op en gaan onder.

“En as ek die sprokie moes inkleur, sal dit in die kleure van die Namibduine wees wat altyd verander en die kleur van die somergras, vol in die saad. Bo-oor alles sal die blou lug buig en op die agtergrond sal daar iets silwer wees vir die magiese nagte in die veld.”

 

 

Advertisements

5 gedagtes oor “Die agste Maart: Internasionale Sprokiesdag

    1. Dankie. Nee, dis my ouma en oupa. Maar die sprokies is mie oor my ouers nie, wel oor baie mense en stukkies van elkeen se storie daarin. Dis mos maar kamma.

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s