Wie bly in hamerkop se nes?

Die kolgans hou die vrou agterdogtig dop.


Egyptian-Goose-Kolgans


Die kolgans hou die vrou agterdogtig dop toe sy haar klere afstroop. Die vrou stap die troebel water in. Die kolgans skel hard.

Die grond raak onder die vrou se voete weg en sy draai op haar rug en dryf saam met die trae stroom. “Skel maar,” sê sy vir die voël en roer haar bene in die water. “Ek ken jou soort. Kastig onseker, weerloos en dan slaan julle toe. Staan net en kyk hoe ons ander verdrink.”

“Ghauk!” sê die kolgans. Sy het immers niks met die vrou se ellende te doen nie. Mense kan so vreeslik wroeg. Daar sit die vrou se nes op die wal van die rivier. Warm, droog en hopelik skoon. Te oordeel na haar kurwes, het sy heeltemal genoeg te ete.

“Hou jou simpatie vir jouself, dis nie jou man wat jou vir die kerk se orreliste gelos het nie. Julle paar lewenslank. Bou ’n nes. Of vat een, nes julle wil. Ha! Al daaraan gedink? Dat die hamerkop dalk weer sy nes wou gebruik? Toe lê jy jou eiers daar. En jy en manlief skel en raas tot die hamerkop die aftog blaas. Ek het julle dopgehou.” Die vrou hou op met water trap en sak stadig weg. Die water sluit byna geluidloos oor haar en stoot rimpel op rimpel na die oewer.

Die kolgans swem in wye sirkels om die plek waar die vrou verdwyn het. Sou die simpel ding haar wou vang? Dalk is die vrou ’n otter. Die kolgans sien dikwels hoe die vrou in die vroeë oggend of na sononder in die rivier swem en duik. Soos ’n bleekwit otter rol sy glad en skoon om in die water en dryf vir lang tye rond.

Die vrou breek die wateroppervlak digby die kolgans. Sy skiet halflyf uit die water wat klotsend terugval van haar lyf. Die vrou hyg na haar asem.

Die kolgans swets luidkeels en styg skellend op uit die water. Toe sy terugkyk, sien sy die vrou se gesig vertrek. Die kolgans ken pyn. Die soort wat seermaak as die windbukskoeëltjie deur jou sagte vere dring. En die soort wanneer ’n otter jou kuiken uit die nes kom haal. Dis hierdie laaste soort pyn wat die vrou pla. Die kolgans draai terug, land naby die vrou en swem in klein sirkels om en om op dieselfde plek.

Die vrou glimlag. “Jy laat my baie aan haar dink. So, in die stemmige grys-bruin sondagrok met die maagdelike wit hier en daar. Net die rooi bek en beentjies om julle jagsheid te wys. Stil en rustig tot paartyd. Maar in die liefdespel! Toe hy een nag nie huis toe kom nie, gaan ek hom soek. Ek kry hulle by haar huis. Dis toe wat ek hulle hoor. In die slaapkamer. Hulle was mooi, so bymekaar. En luidrugtig. Toe weet ek, my beste jare is verby. Ek het ’n stalker geword. ’n Afloerder van ander se lewens.” Die vrou raak weer weg onder die water.

Die kolgans wieg in die rimpels wat die vrou veroorsaak. Haar maat roep en sy vlieg op en gaan saam met hom wei in die groen landerye teen die rivier.

 

Drie dae later, toe die polisieduikers die vrou se opgeblase lyk tussen die riete stroom af van die boshut waar sy vertoef het, kry, lê die kolgans die laaste van haar twaalf eiers in die hamerkop se ou nes. Die broeityd het begin.

 

Advertisements

2 gedagtes oor “Wie bly in hamerkop se nes?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s