‘n Nuwe maand, ‘n ou onthou.

 

20180712_141810_hdr

Waar is die jaar tog heen? Die eerste dag van November en ek het nog nie eens gedink aan die vrugtekoek wat vir Kersfees gebak moet word nie.

Die heerlikheid van so ’n koek darem. Al die geure wat die rypheid van die jaar vasvang en verdiep tot ’n smaaksensasie wat digters kan laat swymel. En skrywers, natuurlik. Saam met die droom oor die Kerskoek, onthou ek die groot bakdag op die plaas voordat Kersfees aanbreek.

 

Dis warm, soos dit net Desember in die Suide kan word. Droog. Windstil. Ma stook die stoof sewe maal warmer as gewoonlik en ons bak. Kleinkoekies: gemmerkoekies so geil van botter en stoop dat hull kan dubbelvou as die reën kom en hulle klam trek. Soetkoekies met rooi bolus waarvoor Ma baie suinig is, want sy bestel die rooi bolus van Joering se Apteek, Dorpstraat, Stellenbosch. Daar is ook krakerige hawermoutkoekies, kondensmelk-en-klapper bolletjies en koffiekoekies wat met die vleismeul deur vormpies gepers word en met versiersuiker op mekaar geplak word.

En dis warm.

Warm of te not, ons drink kanne koffie uit want die hitte, die uitrol van die deeg en die staan voor die stoof tap mens se krag. Teen sononder is ons lywe tam en ons is bewerig van te veel kafeïen. Klaar is ons nog lank nie. Ons plak koffiekoekies op mekaar tot kort voor nege-uur. Toe is Pa se geduld met die vroumensbesigheid op en hy roep ons vir huisgodsdiens.

Die volgende oggend is ons vroeg weer aan die gang. Pa gaan haal nog kameelhout vir die stoof uit die veld en vandag bak ons klomp vroumense die sponskoeke vir die Ovambo werkers. Vier van hulle, vier sonskynkoeke. Daardie sonskynkoeke was vir jou anderste koeke. Hulle kom nie uit Ma se handgeskrewe resepteboek nie, nee, hulle resep is in die Uitgesoekte Resepte SAVF-tak, Potgietersrus, se lelike blou boek.

Sonskynkoek is geel. Eiergeel, want in elke koek is daar drie eiergele. Maal dit met vier en op die ou end sit jy met twaalf ongebruikte eierwitte. Hulle moet verwerk word tot skuimpies. En om skuimpies te maak moet jy daardie eierwitte klits tot hul stywe punte vorm. In my dae was daar nie elektriese eierklitsers nie. Jy klits met ’n kontrepsie wat byna soos ’n windpomp lyk. Behalwe dat jy ’n slingertjie draai wat die klitser laat klits. Jy draai hom teen ’n geweldige tempo. Ma kry die eerste beurt en dan ons drie oudstes op die ry af, wanneer die een voor jou se arms te moeg word om aan te gaan.

In Ma se kombuis word koeke nie met baldadige kleure versier nie. Alles word in sagte pastelle gekleur, die skuimpies ook: madeliefiegeel, wit, roospienk, babablou en mentgroen. Elke kleur het sy eie geur: wit vir vanielje, suurlemoen vir geel, aarbei vir pienk, blou is bessiegeur en mentgroen is natuurlik peperment. Ma vorm elke skuimpie self op bruinpapier en droog hulle in die louoond uit. Hulle smelt in jou mond. Oom Willie sê hulle is ‘pure bedrog’, maar vir my proe hulle na die verganklike lekkerte van feesvier en jonk wees.

Die sonskynkoeke staan op ’n ry op die spensrak en dan kom die heerlikheid. Ons kinders kry elkeen ’n koek om te versier. Ons baklei oor wie Simon se koek moet versier. Hy is die werfhulp en ons kinders groot held. Hy is die een wat vir ons diertjies uit kameelboomwortels kerf en vir ons babahasies of -dassies bring en help grootmaak tot ons hulle onder baie trane, weer in die veld kan los. By hom kry ons elke somer elkeen ’n nuwe kettie en as ons in die veld seerkry, abba hy ons weer tot by die huis dat Ma pleisters kan plak. Sonskynkoeke kan ons versier soos ons wil. Ons maak hulle rooi soos granate, pers soos ’n koningsmantel, so geel dat die son skaam word en so groen dat dit giftig lyk. Simon se koek word ekstra dik geplak met versiersuiker. Ons bestrooi die koeke met blinkers en duisendtjies tot hulle soos ’n Namakwalandse lente lyk en ons eet versiersuiker tot ons soet en taai is.

Die lekkerste is as ons Ou-kersaand vir die skaapwagters hulle koeke gee saam met hulle krimishemde en hulle kanne gemmerbier. Want hulle is blydskap is deel van ons kersvreugde en ons leer klein-klein iets van die ware gees van Kersfees.

Ou-kersaand sluit ons af met ’n snytjie van Ma se Kerskoek. En jy proe genade, hoop en liefde in die vrugte, die geur, die tekstuur. Maar veral liefde.

 

Advertisements

4 gedagtes oor “‘n Nuwe maand, ‘n ou onthou.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s