Rooikappie #2018

Image result for Rooikappie images

Die man se skaduwee raak-raak aan die soom van Rooikappie se mantel. Rooikappie loer oor haar skouer. Die straatlig gooi die man wat haar agtervolg se lang skaduwee voor hom uit en sy gesig is in die donker, maar sy herken hom onmiddellik.

“Ag nee, dêmmit!” brom Rooikappie en rek haar treë om van die man weg te kom. Die eeue het hul merk gelaat en gister se pilatesklas was straf. “Sal die bleddie houtkapper nooit leer dat ek nie sy hulp nodig het nie,” skel sy saggies. Sy stap stadiger.

Die houtkapper het haar sprokie gesteel. Dit is wat daardie dag in die bos gebeur het. Sý was die mooi kind met die lang, goue vlegsels en die rooi manteltjie. Haar regte plek in die geskiedenis moes langs die van Raponsie, Sneeuwitjie en Aspoestertjie gewees het. Húlle tree as heldinne, prinsesse en koninginne uit die stryd. Maar nie Rooikappie nie. Sy is die stout kind, die een wat afdwaal en vir Ouma laat opvreet van die wolf! Almal is altyd verlig as die houtkapper in haar storie opdaag, vir Ouma red en Wolf doodmaak. Wolf was die enigste opwinding in haar lewe op daardie stadium. Nou is sy eeu na eeu niks meer as ’n sedelessie vir kinders nie.

“Rooikappie, asseblief! Staan bietjie stil, ek moet met jou praat,” roep Houtkapper.

Sy asem jaag, dink Rooikappie. Die eeue van hout kap en agter haar aandraf, het hulle tol geëis. Daar is mense wat al van haar ’n bevryde tipe Rooikappie wou maak. Die weergawe van Roald Dahl is die een waarvan sy die meeste hou. Rooikappie skiet die wolf bang, in sy kop met ’n pistool en maak vir haar ’n jas van sy pels. Lekker verby, daardie pistool, dink Rooikappie. Maar, hoe lekker ‘bang-bang’ ook mag wees, sy is gekant teen geweld en met wolwe op die rand van uitwissing, sal sy regkom sonder ’n pistool en ’n jas van wolfpels.

Rooikappie loer weer oor haar skouer. Die houtkapper is digby haar.

“Rooikappie, ek moet met jou praat.”

Rooikappie steek skielik vas en swaai om: “Goed Houtkapper, praat.” Haar stem is kwaai. Haar jeug is vermors. Die houtkapper kon hom maar oor haar ontferm het.  Al was hy arm, sou hy háár prins wees. Rooikappie het hom ontgroei, maar hy meng gedurig met haar forensiese misdaadondersoeke in; Jan Boontjierank ewiglik aan sy sy.

Eenkeer het sy in haar wit kerkrok vir hom gaan kuier op ’n Sondagmiddag toe

haar ouers ’n uiltjie geknip het. Sy het fyntjies geflirt, hom probeer uitlok. En toe niks. Loop saam met haar terug tot op die rand van die woud en stuur haar huis toe met ’n emmertjie bosbessies vir haar ma.

Op dorpsdanse het Rooikappie haar beste moves uitgehaal, grappe vertel en die houtkapper probeer jaloers maak met haar skoolmaats, maar verniet. Hy het haar fronsend beskou en met daardie irriterende Jan Boontjierank, gesels.

En hier is hulle nou. Rooikappie gooi die kap van haar mantel af. Laat hy sien. Help nie nou om agter haar aan te hol soos ’n jakkals wat ’n maat soek nie. Deur die eeue sy straatwys, fiks en gevaarlik geword. In die flou, geel lig van die straatlamp moet hy sien hoe grys haar twee vlegsels, hoe vol voue en plooie haar gesig en hoe dof haar oë geword het. Die gedagte aan Rooikappie met ’n bril, laat haar onverwags proes van die lag.

“Jy lag,” sê die houtkapper. “Vir my?”

“Vir die ouderdom,” antwoord Rooikappie vriendeliker as wat sy voel.

“Dis ’n helse ding, ja,” brom die houtkapper en kyk agterdogtig na Rooikappie. Toe vervolg hy: “Jy lyk goed. Vir jou ouderdom. Ek bedoel, dis darem al eeue?”

“Vergeet my looks,” sug Rooikappie. “Waarom agtervolg jy my so? Teen die tyd kan ek na myself kyk. Jy het gesien wat het met die Heks van Hansie en Grietjie gebeur toe sy dwelms aan my wou verkoop.”

“Ja,” sug die houtkapper. “Rooikappie het haar eie manier van dinge doen. Ek wil my verskoning aanbied vir al die jare. Ek weet jy was verlief op my. Ek moes al vroeër gepraat het. Eeue gelede al, maar ek het nie die moed gehad nie.”

Rooikappie kyk na die sterk gesig van die houtkapper. Dit lyk nog altyd of dit uit rots gekap is, al is dit verweerde rots. Hy is tog aantreklik, dink sy. “Aag, dit was maar net die heldeverering van ’n tienermeisietjie, Houtkapper,” bieg Rooikappie. “Sjuut, hoor jy ook voetstappe op die sypaadjie?”

“Dis Jan, sê die houtkapper. “Hy is nooit te ver van my af nie. Jy sien, Rooikappie, ons is ’n couple. ’n Gay couple. Al van die dag dat hy my byl gegryp en die boontjierank afgekap het. Dis wat ek vir jou wil sê. Jy is ’n besonderse mens. Ek wil jou vriend wees. Vir die volgende ’n paar eeue.”

“Na ons so lank mekaar irriteer het?” vra Rooikappie koel.

“Ek is jammer, Rooikappie. Dis moeilik om in sprokies uit die kas te klim. Ou Keiser-sonder-klere sou my onthoof.”

Rooikappie kyk hoe Jan naderkom met sy skaduwee lank en swart voor hom. “Ja, dis die ding met sprokies. Jy word nooit wie jy regtig is nie.” Rooikappie gooi haar vlegsels agter toe. “Jan is oulik en jy het nog altyd my rug gedek in noodgevalle. Ek is moeg baklei, Houtkapper.”

Toe is Jan by hulle. Hy gooi sy arm om die houtkapper se skouers. “Jis Rooies,” koggel hy vir Rooikappie, “jy hou mos deesdae jou lyf Catwoman.”

Rooikappie mik met haar mandjie ’n hou na sy kant toe.

Die houtkapper lag.

“Wat is daar in jou mandjie, Skattebol? Ek is sooo honger,” flikflooi Jan.

“Wat dink jy, Jan? Koek en wyn, soos altyd. Sal ons drie op daardie trap gaan sit en middernagfees pleeg?”

 


Advertisements

2 gedagtes oor “Rooikappie #2018

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s