Die hart van ‘n vreemdeling

Photo by Pixabay on Pexels.com

Die hart van n vreemdeling bly n toe reistas ..

Soms, veral tydens ’n reis, sien jy iemand deur ’n motorruit, by die ingang van ’n supermark of op die roltrap en jy vergeet die gesig nooit weer nie. Iemand kyk skielik op net wanneer jy ’n boek terugsit op die rak in ’n biblioteek of boekwinkel en glimlag vir jou. Iewers in jou binneste herken jy iets van jouself in daardie persoon en jy glimlag terug.  Soms, op n onverwagte oomblik, dink jy aan die persoon en wonder oor die storie agter die vreemdeling.

’n Vrou staan op een van die hoogste rotse en die wind pluk haar hare in blonde slierte uit die swart doek wat sy om haar kop het. Sy strooi iets in die wind. Die wind gryp dit gretig en dra dit ’n ent weg.  Dit verdwyn buite sig.

               “Voer sy die meeue?” vra my man.

               “Dan moet sy simpel wees, want die wind maak dat hier nie eens ’n gulsige meeu is nie,” weerlê ek sy stelling. “Kyk, sy is heel in swart. Sien jy die kissie. Ek sweer sy kom strooi ’n geliefde se as oor die see. Dalk was hulle lief om hierna toe te kom toe hy nog gelewe het,” borduur ek, ewig die skrywer, voort.

               Man lag. “Jy kan nogal reg wees!”

               Die vrou stap by ons verby. Haar gesig het swaarkrylyne, maar sy is aantreklik op ’n verweerde manier. Haar mond is baie rooi.  Sy huil nie. Sy stap net. Haar gang is soepel en haar treë het die beslistheid van iemand wat ’n onaangename taak afgehandel het.

               Dalk , dink ek toe sy in die luuksemotor wat ’n entjie van ons af  klim, begin haar lewe nou eers.

               Die volgende dag ry ons terug. Ons laat die see en sy slegte weer agter en my hart loop al digby die huis toe ons in Meiringspoort stop vir koffie en dies meer. ’n Vrou en haar vriendin is entjie van ons af ook besig met koffie en ’n padkosbroodjie. Die vriendin kan ek glad nie meer onthou nie, maar die vrou self, onthou ek in detail. Sy was ’n groot vrou. Lank en goed gebou. Lieflike gesig en houding en wonderlike lang, donker, krulhare wat in die geniepsige wind om haar kop dwarrel. Sy dra ’n geelgroen rok wat mooi afsteek teen haar donker vel. En toe lag sy. ’n Lag wat jou aanraak, jou ligter maak, jou laat glo in voëls en visse; in drake en drakedoders.

               So ’n vrou, dink ek is ’n koningin uit eie reg. Ons ry en ek bêre die vrou in my kop.

                Vanoggendtoe ek die eerste geelgroen bloeisels van die soetdoring sien, dink ek weer aan die vrou in Meiringspoort. Ek wonder, nie vir die eerste keer nie, wat is háár storie? Maar die hart van ’n vreemdeling bly ‘n toe reistas vir die verbyganger, al het julle ook ’n oomblik in die wind gedeel.

Advertisements

Een gedagte oor “Die hart van ‘n vreemdeling

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s