Sonbesoek

                                                 20180814_174247_hdr-effects

Op 4 Desember elke jaar, sluip die son oor die drumpel van die oop voordeur en glip tussen die stoel- en tafelpote deur en uit by die agterdeur. Die sonstrook gly oor die klippiesvloer van die ringmuur en kruip teen die braai se muurtjie op om soos ’n goue seëning in die leë vuurmaakholte te gaan lê.

               “Waar is julle? Vra die son. “Waar is die hout en die kinders? Waar is die vlamme en die vleis en brood?”

               Ek glimlag. Elke jaar van 4 tot 10 Desember seën die son ons braaivleisplek. Ek weet dit, want dit word tyd vir lekker kuiers en die liefde wat gaste, vriende en familie deel om vure dwarsoor die land. Die geur van vleis, brood en speserye is offerandes van liefde aan die gaste om die vuur. Die gloed van die wyn in die glas teen die blou lug gehou, is vloeibare vreugde oor nog ’n jaar se voleindiging.

Die son weet van die lekkerkry van die grapmakers, die bontpraters, die storievertellers en hofnarre. Daar gaan die vakansie om die vuur diep dinge gesels word: politiek, geskiedenis, godsdiens en gesinne. Harte word oopgemaak en die las van die jaar se swoeg word in die vuur uitgespoeg in stringe woorde en goue stiltes. Ons gaan ou dinge onthou en nuwe herinneringe skep.

img-20150328-wa0006-e1544429771910.jpg

Daar gaan soentjies gesteel word agter die digte blaredos van die jong palmboom en die soet melkasempies van die kleingoed gaan stories vertel vir ouma en oupa. Hulle gaan Kersfeeskonsert hou en sing met hulle stemmetjies soos silwer klokkies.

Ons gaan ryk wees, ek en jy.

Die son sak aan die anderkant van die ringmuur weg. Hy knipoog tevrede.

Advertisements

5 gedagtes oor “Sonbesoek

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s