Die tyd van die vroue.

flame in candle

Ek lees vroeër die week ’n gediggie deur iemand wat vertel hoe haar huishulp met verlof gaan en sy die huishouding nou self moet waarneem. Dis nie vir haar lekker nie, want sy is “nie ’n huisvrou nie”.

Interessant, dink ek, want ek het baie keer gewonder as die getroue Selina wegstap met haar laaste pay van die jaar en haar bonus in haar handsak, wat dink jy Mevrou Montwedi?

Miskien is sy bly sy is van my perfeksionistiese streke ontslae vir twee weke. Dalk is sy bly oor die heel varkkop in die checkka wat sy saamdra. Ek eet nie varkkop nie, maar sy het my verseker vir haar is dit baie lekker. Sy het verduidelik hoe sy dit gaarmaak tot dit sag en romerig uitmekaarval.

“En ai, die ou kinnerkies, hulle eet hom dat die blink so omie lip sit,” vertel sy en lag lekker by die vooruitsig dat die kleingoed in haar sorg gaan lekker eet.

Ek sit by: Geld vir lekkergoed vir die kleinspan en koeldrankies, sit my kopergeldblik van die jaar in haar hand om vir die kleintjies uit te deel en sorg vir groente en aartappels om die varkkop te rek tot dit die hele familietjie kan laat eet.

Of dink sy dalk: “Jou suinige biets. Jy kon my maar ’n paar skaaptjoppe gegee het. Ek weet hoe lykkit in jou vrieskas.”

Miskien dink sy niks. Loop sy net vir oulaas die jaar die halwe blok tot by die taxi-rank, haastig want die wasgoed is nog vuil by die huis. Sy moet die kleintjies gaan bymekaarmaak, want as die skool gesluit het, is daar nie meer oppas virrie kinders nie. Dan issit elke man vir homself. En die grotes kykie, hulle speel net met hullese foune en hullese vrinne.

Miskien huil haar hart omdat alles wat ek gee en dit wat sy het en haar dogters wat al werk, inbring te min bly. Haar man het haar iewers die jaar gelos want “hy lus agter ou jong meisietjies aan”. Vandag toe ek vra of sy nie ’n stukkie van haar bonus wil bere vir January se kaalgat-tyd nie, sê  sy:

“Ek dink ek moet maar alles vat.”

“Jissie Selina, dit gaan so taai in Januarie, dan eet jy jou hele maand se pay op voor die einde van die maand.”

Sy lag verleë. “Nee, maar daar is nog geld wat moet inkom Januarie.”

Child pay, dink ek en knik. “Dis dan reg so.” Ek wil nie te veel uitvra nie. Ek sou dit haat as my werkgewer sy neus in my sake steek. Laat dit gaan. Laat sy maar bietjie van haar trots behou.

Sy stap weg. Sy gaan nou verf koop om die huis oor te verf. Alles binnekant is al skoon.

My huis is ook skoon. Maar ek is nou verantwoordelik vir die tuin, die wasgoed, die strykwerk, die vuil kombuisvloer aan die einde van elke dag en die stapel skottelgoed. Dit is ook goed. Dit hou mens nederig. Pa het my geleer dat jy nie van iemand kan verwag om jou vuilwerk te doen as jy dit nie al self gedoen het nie.

En so dink ek altyd aan hierdie tyd van die jaar as die “tyd van die vroue”. Dis die tyd waarin Maria haar laaste stil gedagtes gekoester het en seker reeds begin het met die voorbereidings vir die tog na Bethlehem. Of reeds op pad was daarheen. Eensaam in haar verwagting en al die vooraf gebeure. Bewus van die dieper dinge wat vroue oraloor in stilte en eensame gedagtes in hulle harte ronddra.

My gebede gaan aan al die wonderlike vroue wat in hierdie tyd die laaste voorbereidings vir hulle gesinne en geliefdes se Kersfees maak. Ek, wat ook ’n Ma en Vrou is, deel in julle opofferings en julle gebede vir vrede en liefde om die Kerstafel. Ek weet julle streef na die volmaakte Kersfees, hoe eenvoudig of oordadig ook al.

Maar die een ding wat baie vroue in hierdie tyd gemeen het, is sorg en voorbereiding en selfopoffering. Dis alles mooi en goed.

Onthou julle geliefdes en julself is net mense.

Die wonderwerk is dat almal rondom jou is. Die vrede is nie gewaarborg nie. Die ding wat saak maak is dat jy almal van hulle lief het, al waardeer hulle skynbaar nie jou pogings nie, al baklei hulle oor nietighede en al bederf hulle jou hele Kersprogram.

Jou liefde vir hulle is ononderhandelbaar.

Wees goed vir jouself in hierdie tyd en geniet die soet en die suur van familie-wees.

Geseënde Kersfees!

Advertisements

4 gedagtes oor “Die tyd van die vroue.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s