‘n Vakansiestorie vir die vaak

close up of wine and fruitsOns kuier by my kinders in Modimolle. Die somerhitte is versengend, maar teen die aand word dit koeler en ons sit buite onder die singende bosveldsterre.

Met ons aankoms by hulle was die bakkie nog skaars klaar afgelaai of die kleinkinders se kaskenades begin. Ouma moet kyk hoe hulle dans, sing en soos wafferse akrobate op die wipmat te kere gaan. En toe kom die strikvraag: “Ken Ouma ‘ek hou van kaas bra?’”

Nee, Ouma ken dit nie. Al die jare van my lewe was ek nog musiekgestremd en veel erg aan Afrikaanse sangers het ek nie.

“Jissie Ma,” tree my skoondogter tussenbeide, “ek weet nie van die song nie. Seker Koos Kombuis wat dit sing. Maar sy kom daarmee van die skool af.”

Nou sit albei dogtertjies op my skoot en om die beurt vra hulle vir stories. Soos die bekende stories deurgedraf en uitgeput word, word die versoeke al hoe vreemder.

“Vertel vir ons van ’n hoedertjie/eendjie/bobbejaantjie,” ens.

En toe die grand finale: “Ouma,” versoek Dogtertjie no.1, “vertel ons ’n storie van ’n aircon.”

Ek snak geluidloos na my asem. Wat nou? Hulle het ’n aircon (en ja, ek weet dit is ’n lugverrkoeler/versorger, maar ek is nou in my kleinkinders se milieu.) Hulle pa het vir hulle ’n aircon in hulle kamer gesit en dit is nog ’n wonderlike nuutjie vir die twee.

Goed dink ek, mens is net een dood skuldig en ek gaan dit my beste probeerslag gee. Ek val weg: “Op ’n dag, sommer soos gister of verlede week of ses maande gelede was daar twee dogtertjies wat nie snags kon slaap van die vreeslike hitte nie. Omdat hulle pappa vir hulle jammer was, het hy sy spaargeld gaan trek by die bank en vir hulle ’n aircon’tjie in hulle kamer laat installeer. Toe slaap die dogtertjies baie lekker in die koel lug wat die aircon maak. Maar op ’n aand toe loop die aircon en hy raas: Tjierr…tjieeer.

Die volgende aan tjieeer, tjierie, tjier die aircon en die aand daarna toe kerm hy sommer dwarsdeur die nag: Tjier, tjierie, tjierie tjieerrr. Te vreeslik kerm hy en die dogtertjies slaap baie sleg. Hulle staan moeg en kwaai die volgende oggeng op en hulle pappa sê: “Die arme aircon het seker ’n bearing geslaan. Ek sal die aircon-mekkaniek moet bel dat hy kom kyk wat is fout.”

Toe die kinders die middag by die huis kom is die man net mooi besig om die nuwe bearings in die aircon te sit. “Hy sal nie weer raas nie nie,” belowe die gawe man.

“Oom,” vra die twee dogtertjies toe mooi, “kan Oom hom nie so maak dat hy vir ons ’n liedjie sing in die nag dat ons lekker kan slaap en mooi drome droom nie?”

Die man frons. “Ek kan seker probeer.” Hy werk nog ’n rukkie aan die aircon en toe betaal Pappa hom en hy ry weer.

Daardie aand gaan die dogtertjies vroeg slaap. Hulle sit die aircon aan en hoor hoe sy waaier aan die buitekant begin loop. “Sjooor,sjoeke, swiees,” sê die aircon en die koel lug stroom deur die kamer. En toe begin die aircon sing: “Ek hou van kaas, bra.”

Vier onskuldige ogies staar my oopmond en ongelowig aan. Ek sien die twyfel oor hulle Ouma se geestestoestand.

Maar hulle pa en ma en oupa lag dat hulle oor die gras rol. Selfs die volgende dag bars hulle nog soms uit van die lag.

En ek? Ek voel gek. En des te meer toe ons met Oujaar by my oudste seun en sy vrou kuier. Hulle het twee tieners en toe Oupa nou die hele aircon-storie vir hulle onder groot gelag vertel, frons hulle dogter:

“Ouma, dis Jan Bloukaas wat dit sing, nie Koos Kombuis nie.”

Toe speel hulle die liedjie vir my en ek is dankbaar vir die bietjie musiekopvoeding wat ek ontvang op die laaste dag van die oujaar. Maar ek voel nog soos een gek op’et aarde, soos die ou kinds Nederlandse tante gesê het.

 

Advertisements

Een gedagte oor “‘n Vakansiestorie vir die vaak

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s