Gebed om ‘n koel dag

20181201_190427_hdr.jpg

 

Die dag het soos gewoonlik begin. Ek het wakker geword toe Pa kort ná vieruur die gangdeur agter hom toedruk en waterketel by die kraan vol tap. Toe hy Ma se koffie op haar bedkassie neersit, stoot ek die lappieskombers van my af en loop kombuis toe.

Ek sit op die riempiesbank en ril effens van die koue, want al is dit middelsomer, is die nanag koud. Ek hoor Pa en Ma fluisterpraat in die kamer, toe Pa se voetstappe in die gang.

“Môre, Meisiekind,” sê Pa en skink my koffie in my klein, blou blikbekertjie. Hy haal sy Bybel en dagboek van die rakkie af en begin met sy stiltetyd, soos elke ander oggend. Hy lees klaar en bid lank. Hoe droër die veld word, hoe langer bid Pa soggens. Toe soen Pa my en ry skaap toe.

Ek wag tot ek die bakkie se dreuning nie meer kan hoor nie en  loop in my nagklere by die kombuis uit en oor die koue sementstoep. Daar is ’n vreemde stilte oor die werf. Nie eens die mossies begin raas onder die dakkappe nie en Ma se bont haan kraai onnodig lank en hard. Daar is nog geen teken van die son wat agter Loskop moet opkom nie. Ek stap verder en draai eers om toe ek die damwal in die droërivier voor my kan sien. Alles is droog en lelik, maar in die skemer is die lyne van die doringbome sag en mooi en die klippe en rotse teen die hange lyk donker en geheimsinnig.

By die huis is Ma en Ouma al in die kombuis. Ouma het van die Kaap af kom kuier. Sy is Ma se ma. Ons is nie vreeslik erg oor haar nie, want haar mond trek bitter af en haar woorde smaak soos gal. Die stukkie van die ‘woorde soos gal’ het ek gehoor toe ons Liefouma dit vir Tant Susie vertel het.

“Waarom is jy nog nie aangetrek nie,” vra Ouma Kaap. “So ’n grote vroumens en jy loop in jou pajamas rond. Voor die volk.”

“Het jy al bietjie koffie gehad?” probeer Ma die slae uit Ouma Kaap se woorde haal.

“Bederf nou, bedroef later,” mompel Ouma en slurp ’n leksel koffie uit haar piering op.

“Breg! Ek het ’n geheim, ek het ’n geheim,” sing Anna uit die kamer.

“Gaan hoor tog! Sy is al die hele oggend uit haar velle. Is die weer toegetrek buite?” Ma tap water in die pappot en ek luister eers na die sjorgeselsie van die water en die pot voordat ek antwoord.

“Nee, Ma, die lug is oop. Maar die son is nog weg.”

“Kan nie wees nie.” Ma sit die pot vol water op die stoof en loop uit om na die lug te kyk.

Ek en Ouma loop agterna, maar in die deur gryp Anna my nagrok vas.

“Breg, dis my geheim. Hulle gaan so bly wees. Die son gaan nie vandag opkom nie.”

“Jy’s lekker simpel. Kom ons gaan trek aan. Ma is nou-nou op ons. Die son kom elke oggend op. Al is daar ook wolke in die lug, die son kom op. Oor die Here dit so bestem het,” aap ek weer vir Liefouma na.

Ma en Ouma is buite op die werf. Hulle staan skuins voor ons venster en kyk na die Ooste. Die kommerlyne op Ma se gesig kerf dieper en Ouma Kaap lyk verbouereerd, amper bang.

“Moeder,” begin Ma, “is dit dalk die oordeelsdag?”

“Kan wees,” knor Ouma. “Bra ontydig ook. My dinge is nog vêr van agtermekaar.”

“Hemeltjie ons, Moeder! Dis nie nou tyd om so te praat nie. Kom ons gaan in. Hierdie skemerte maak my onrustig. Dalk is hier ’n storm agter die rante en die stof skerm die son af.”

Ons is net in ons drarokke vir die dag toe Ma om die deur loer. “Kom kombuis toe. Ek wil julle nie onder my oë uit hê nie. Hier is iets vreemds aan die gang. Dis al byna tienuur en dis nog skemer buite. Die hoenders is nog nie op nie.” Ma se oë is groot en bang.

Anna spring op haar bed en dans In die rondte. “Ek het gebid. Ek het gebiiid die son moenie skyn. Vir net een, net een ou daggie. Koelte, koelte en vir Ouma en Ma. Ek het gebid-bid-bid.”

“Af van daardie bed af! Kom hier en vertel my presies wat jy nou gesê het.” Ma se stem is hard en koud. Sy klink amper soos Ouma Kaap.

Anna slaan gat-oor-kop en kom op haar voete voor Ma te lande. “Ek het vir Liewe Jesus gevra hy moenie dat die son vandag opkom nie.”

My sussie, my waaghalsige, onmoontlike sussie se gesig dra ’n gloed van geluk. Daar is soveel vreugde in haar oë en haar lyf dat ek gelukkig voel, al weet ek hier is nou groot drama.

“Jy het wát? Gebid? Hoekom.” Ma se stem is so sag dat ek sommer weet sy is lus en huil eerder as om met Anna te raas.

“Ja, Mamsie, gebid vir koelte vir Ma en Moeder-uit-die-Kaap. Dat julle net ruuustig kan sit en gesels in koelte en vrede.”

Ma bars in trane uit.

“Godsjammerlike heiligskennis,” tier Ouma, “die klein merrie moet geneuk word tot sy nie kan loop nie. Hoe kan ’n bogkind sulke dinge doen. Julle is te sag met die kinders, Johanna. Hier gaan niks goeds van kom nie.”

Ma droog haar trane af. Sy lag effens. “Ai, Annatjie. Jy is darem ’n ander entjie mens.” Ma gee Anna ’n drukkie en vervolg in Ouma se rigting: Ek dink die kind het goed bedoel. Ek sal dat Hendrik vanaand met haar praat. Hy het ’n slag met die meisiekinders wat ek nie het nie. Mooi verduidelik en als.”

“Kyk die son!” sê ek versigtig.

Anna begin droewig huil. “Nou is my hele gebed verniet.” Sy loop snikkend na ons kamer en val op die bed neer. “Ek sal maar hier vir Pa wag,” huil-praat sy, “al neem dit vir ewig. My lewe is tog verby.”

“Pa het gesê hy gaan eers vanaand by die huis wees. Kom ons speel hier in die kamer. Mevrou-mevrou, dan hou ons biddag vir reën. Jy kan die dominee wees.”

“Nee,” beslis Anna, “ek bid nooit weer in my lewe nie. Ons kan mevrou-mevrou, maar dan hou ons net teaparties.”

Pa kom droog sononder by die huis aan. Sy gesig is vol stof en daaronder gloei sy vel rooi en skrynerig van die son en wind, maar sy mond en oë lag. “Ek het vandag die mooiste ding gesien. Iets wat sê die reën is aan die kom. ’n Dik laag vog het uit die noordooste begin instoot. Toe ons bo-op die bakenskop is, kon mens dit duidelik sien. Nog drie dae!”

Ek en Anna begin ’n wilde reëndans van geluk en vreugde om Pa en Ma uitvoer en hulle kyk met blink oë na mekaar.

“Dink Pa die rivier gaan afkom?” vra ek en tol weg uit ons dans.

“Hier kom groot reën,” is al wat Pa sê en loop die huis in om te gaan was.

Ek weet nie wat Pa alles vir Anna gesê het nie, maar drie dae later trap die reën met ’n witspoor teen die rant ar. Anna bid haar dankgebed. Teen die vierde oggend, toe ons wakker word, lê die rivier blinkbruin en skop-skop teen sy walle met bollings skuim.

 

 

 

 

Advertisements

8 gedagtes oor “Gebed om ‘n koel dag

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s